Vredesooreenkoms onderteken vir Tigray

Die partye in die konflik in Ethiopië se noordelike Tigray-streek het ooreengekom om vyandelikhede te staak. Die Afrika-unie-bemiddelaar Olusegun Obasanjo het die aankondiging gemaak en sê dis net meer as ‘n week nadat formele vredesamesprekings in Suid-Afrika begin het. Die oorlog, wat in November 2020 uitgebreek het, plaas streeksmagte van Tigray teen Ethiopië se federale weermag en sy bondgenote. Nóg Eritrea nóg streeksmagte wat met die Ethiopiese weermag verbonde is, het aan die samesprekings in Suid-Afrika deelgeneem en dit was onduidelik of hulle die ooreenkoms wat daar bereik is, sou nakom.