Voormalige Air Namibia-werkers hof toe oor skeidingspakkette

Sowat 250 voormalige werknemers van Air Namibia dagvaar die lugredery, regering en ’n aantal ministeries vir hul skeidingspakkette wat hul glo ses maande gelede moes ontvang het. Daar is na bewering 640 werknemers wat nie hul pakkette, met ’n gesamentlike bedrag van 100,5 miljoen Namibiese dollar, ontvang het nie. ’n Groep voormalige werknemers het buite die arbeidskommissaris se kantoor saamgedrom. Renier Bougard, wat 22 jaar vir Air Namibia gewerk het en die werknemers in die arbeidshof verteenwoordig, het aan die Namibiese dagblad Republikein gesê die regering en betrokke ministeries was nie teenwoordig nie en die saak is tot 17 November uitgestel.