Voorhuwelikse seks onwettig in Indonesië, daar’s tronkstraf

Ongetroude pare wat in Indonesië betrap word dat hulle saamwoon of seks het, kan in die toekoms tot ‘n jaar tronkstraf opgelê word nadat die land se Parlement ‘n nuwe misdaadkode aanvaar het. Dit is van toepassing op landsburgers sowel as buitelanders. Die wetgewing is volgens berigte deel van verskeie wysigings wat dit ook verbode maak om die president te beledig, of sienings uit te spreek wat in stryd is met staats-ideologie. Kritici beskryf die nuwe reëls as uitkalwing van politieke vryheid. Die kode sal eers oor sowat drie jaar van krag word.