Voer, infrastruktuur striem visproduksie

Visproduksie by akwakultuurprojekte van die visserye-ministerie is nie op kapasiteit nie weens faktore wat ‘n gebrek aan kwaliteit voer en infrastruktuurprobleme insluit. Die Parlementêre Staande Komitee oor Natuurlike Hulpbronne het oorsigbesoeke gebring aan projekte in die Kavango Oos-, Kavango Wes-, Omusati-, Oshana-, Omaheke- en Karas-streke. Die komitee het bevind die tekort aan voer is hoofsaaklik weens die Onavivi-visvoeraanleg se onvermoë om voldoende voer te produseer. Nog ‘n probleem is kweekhuis-plastiekdakke wat nie duursaam genoeg is om sterk winde te weerstaan nie, veral in die suide. Dit bring seisoenale beperkings in visproduksie mee, wat veronderstel is om regdeur die jaar aan te gaan.