VN se Menseregteraad skors Rusland

Die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies het Rusland vandag uit die VN se Menseregteraad geskors oor berigte van growwe en stelselmatige skendings en misbruik van menseregte deur Russiese troepe tydens die inval in die Oekraïne. Altesaam 93 lande het ten gunste van die skorsing gestem, terwyl 24 lande nee gestem en 58 lande buite stemming gebly het. Suid-Afrika het onder meer buite stemming gebly. ’n Tweederde-meerderheid van stemgeregtigde lede was nodig om Rusland uit die raad van 47 lede te skors. Skorsings is skaars. Libië is in 2011 geskors weens geweld teen betogers deur magte lojaal aan destydse leier Muammar Ghaddafi.