VN sê daar’s reeds 28 gevalle van seksuele geweld wat met Oekraïnse oorlog verband hou

Die Verenigde Nasies se Hoё Kommissaris vir Menseregte, Michelle Bachelet, sê haar kantoor het 28 gevalle van seksuele geweld, wat met die konflik in Oekraïne verbind kan word, geverifieer. Dit sluit in gevalle van verkragting, marteling, ontkleding onder dwang en dreigemente van seksuele geweld. Die meeste gevalle het voorgekom in gebiede wat deur Russiese gewapende magte beheer word. Volgens Bachelet is die omvang van die oortredings nie duidelik nie, gegewe die beperkte toegang tot dienste, grootskaals ontworteling en volgehoue stigma, aangesien slagoffers dikwels nie bereid is om sulke misdade aan te meld nie.