VN het kommer oor 200 Palestyne wat tot dusver vanjaar dood is
Die Verenigde Nasies sê meer as 200 Palestyne en byna 30 Israeli’s is tot dusver vanjaar dood in betogings, skermutselings, militêre operasies, aanvalle en ander voorvalle. Dit is die hoogste sterftesyfer sedert 2005. Die VN se spesiale koördineerder vir die Midde-Oosterse vredesproses, Tor Wennesland, sê die gebrek aan vordering na ‘n politieke oplossing wat aandag gee aan die belangrikste kwessies wat die konflik aanvuur, het ‘n gevaarlike en onvoorspelbare vakuum gelaat wat aan albei kante deur ekstremiste gevul word.