Vloot vang vermeende onwettige visvangers

Plaaslike media berig dat ‘n Angolese vaartuig aangekeer is oor beweerde onwettige visvangaktiwiteite in Namibiese water. Luidens die berigte sê die polisiewoordvoerder, adjunkkommissaris Kauna Shikwambi, die vaartuig, die Angolese MFV Lucimar, het 19 bemanningslede gehad, bestaande uit 15 Angolese burgers, twee Senegalese burgers, een Suid-Afrikaner en een Portugese burger. Hulle is reeds op 19 Desember deur die Nathaniel Maxuilili-patrollievaartuig onderskep. Shikwambi sê die vaartuig se kaptein, Rodrigues Jose, hoofingenieur Charl le Corre, en Angolese bemanningslid Mateus Ambrosio is in hegtenis geneem en aangekla. Hulle het op 29 Desember in die landdroshof op Walvisbaai verskyn. Die vaartuig is na bewering gevind waar hy ongeveer 24 kilometer binne Namibiese territoriale water naby die Angolese-Namibiese grens visvang sonder die nodige toestemming. Die Nathaniel Maxuilili-patrollievaartuig het die Angolese vaartuig na die Walvisbaai-hawe begelei, waar dit daarna vasgemeer is. Die saak is tot 8 Februarie uitgestel.