Vlieglarwes maak goeie dierevoer

Vlieglarwes, wat op vertikale plase ‘gekweek’ word op vrugteafval, word in voer omskep in Costa Rica. In Guapiles, 60 kilometer noord van die hoofstad San Jose, het ‘n innoverende maatskappy die vlieë aan die werk gesit. Die swart soldaatvlieg is inheems aan tropiese klimate en voer op organiese afval. Die maatskappy ProNuvo sê die larwes is ‘n hoë-gehalte proteïen en kan dus “gesonder” proteïene vir diere verskaf en met minder omgewingsimpak as voer gebaseer op dierlike of plantaardige bronne. Die maatskappy se finale produkte, in die vorm van gedroogde larwes, proteïenpoeier of insekolie, word uitgevoer – voorlopig net na die VSA, hoewel een Costa Ricaanse vissery dit reeds in sy tilapiaplaas in die noorde van die land gebruik.