Viëtnam konfiskeer 7t ivoor uit Angola

Viëtnamese owerhede het beslag gelê op 7 metrieke ton ivoor wat uit Angola gesmokkel is, die grootste beslaglegging op wildprodukte in jare. Handel in ivoor is onwettig in Viëtnam, maar dit kom algemeen voor. Ander items wat dikwels gevind word as hulle die land ingesmokkel is, sluit in skubbe van die ietermagô, renosterhorings en tierkarkasse. Doeane-owerhede in Haiphong City het die ivoor gevind wat versteek was in ‘n houer wat by doeane as grondboontjies verklaar is. Die vrag is deur Singapoer vervoer. Die beslaglegging kom kort op die hakke van meer as 600 kilogram Afrika-ivoor wat verlede maand by die stad se Lach Huyen-hawe gevind is. Verlede maand het ’n hof in Viëtnam ’n man tot 13 jaar tronkstraf gevonnis vir handel in byna 10 ton bedreigde diereprodukte uit Afrika, insluitend ivoor en renosterhorings.