Vier mense vermis, 20 in hospitale ná slikdam-ramp by Jagersfontein

Vier mense word vermis en 20 mense word in hospitale behandel nadat ‘n slikdamwal van ‘n myn vanoggend in Jagersfontein in die Vrystaat meegegee en gedeeltes van Charlesville en Itumeleng oorstroom het. Inwoners is letterlik deur massas water in hul huise oorval. Bejaardes, kinders, gestremdes in rolstoele en diere het weggespoel. Die slik het reeds bykans 15 kilometer suid van Jagersfontein gestroom en het in ‘n stadium een kilometer wyd oor plase geloop. Nagenoeg 100 huise is in die twee nedersettings oorstroom en die hele Jagersfontein se krag is af. Geen sterftes is tot dusver aangemeld nie. Dit word vergelyk met die Merriespruit-ramp van die tagtigerjare in Virginia. Vrystaat-premier Sisi Ntombela het met skok van die ramp verneem en sal die rampgebied vandag besoek.