Vier kindermummies in Peru opgegrawe

Argeoloë in Peru het vier mummies van kinders opgegrawe wat vermoedelik minstens 1 000 jaar oud is. Die vonds is gemaak in wat eens ‘n heilige seremoniële ruimte was en wat nou in een van die oudste woonbuurte van hedendaagse Lima is. Navorsers glo die kinders, wat saam met die oorblyfsels van ‘n volwassene ontdek is, kom van die Ychsma-kultuur wat aan Peru se sentrale kus ontwikkel het voordat die Inka-ryk uitgebrei het. Dit is nie bekend of die kinders deel gevorm het van ‘n belangrike familie of nie.