Vier beamptes geskors na ontsnapping van Wang Hui

Vier beamptes van die Namibiese korrektiewe diens is geskors na die ontsnapping van die Chinese renosterhoring-smokkelaar Wang Hui. Die hoof van die diens, kommissaris-generaal Raphael Hamunyela het aan plaaslike media bevestig dat twee senior en twee junior beamptes na bewering betrokke is. Hy sê die ondersoek is steeds aan die gang maar, iets is nie pluis nie. Wang het reeds op 17 Oktober ontsnap en het sedertdien spoorloos verdwyn. Hy het by Brakwater waar hy saam met ‘n beampte van die diens glo voorraad opgetel het, tydens ‘n badkamer-breek ontsnap. Hy is in 2016 gearresteer in besit van 14 renosterhoring, en twee luiperdvelle en is 15 jaar tronkstraf opgelê.