Vervoerinflasie aansienlik laer jaar-tot-jaar

Die Namibiese Statistieke-agentskap se jongte verbruikerspryse-verslag wys dat die Vervoerkategorie in September vanjaar op 2,2 persent gestaan het, vergeleke met 19,5 persent in September 2022. Die stadige toename in die jaarlikse inflasiekoers is hoofsaaklik weerspieël in die subkomponent Bedryf van persoonlike vervoer toerusting wat 0.1 persent aangeteken het vergeleke met 30 persent in September 2022. Maand-tot-maand het hierdie kategorie ‘n toename van 2.9 persent aangeteken vergeleke met 0.5 persent die vorige maand. Aankoop van voertuie het ‘n jaarlikse inflasiekoers van 9.5 persent gedurende September vanjaar registreer, in vergelyking met 3.2 persent in September 2022. Die toename in die jaarlikse inflasiekoers vir hierdie kategorie is waargeneem in Motors, wat van 2.9 persent tot 10 persent opgeskiet het.