Vertragings by doeanebeheer by OR Tambo-lughawe

Die DA het sy kommer uitgespreek oor die vertragings by doeanebeheer by die OR Tambo Internasionale Lughawe, waaronder toeriste wat Suid-Afrika besoek, gebuk gaan. Toeriste wag, weens die inwerking-stelling van die nuwe biometriese stelsel op die lughawe, soms tot drie uur lank voordat hulle toegang kry tot die openbare aankoms-saal. Die opposisieparty sê die vertragings skep ‘n baie negatiewe beeld teen die agtergrond van deeglik-beplande reëlings en besprekings deur toermaatskappye. Die DA-lid Manny de Freitas sê sommige toergroepe moes van hulle beplande aktiwiteite laat vaar weens die oponthoude by doeane.