Vertraagde besluite in SA oor invoerbelasting ly tot verliese van miljarde

Die raadgewende firma, XA Global Trade Advisors, sê vertraagde besluite oor invoerbelasting en teenstortings-maatreëls het gelei tot die verlies van miljarde Suid-Afrikaanse rand aan inkomste in Suid-Afrika. Volgens die firma sou die tesourie 1,25 miljard rand ingesamel het as die besluite betyds in werking gestel is. Die raadgewer se uitvoerende hoof, Donald MacKay, sê daar is 46 tarief- en teenstortings-ondersoeke aan die gang, en meer as die helfte hiervan is laat. MacKay doen ‘n beroep op die ministers van handel, nywerheid en mededinging, en finansies, om sake wat langer as 18 maande agterstallig is binne die volgende drie maande af te handel of te beëindig.