Verstedeliking wek kommer in Erongo

Die tempo van verstedeliking in Namibië het ‘n groot uitdaging vir plaaslike owerhede in die Erongo-streek geword. Dit is volgens die goewerneur Neville Andre. Hy sê druk neem toe op begrotings en tans is daar ‘n agterstand van behuising van meer as 40 000 huise, met byna 17 000 huise op Swakopmund en 20 000 huise op Walvisbaai. Swakopmund het daarin geslaag om 1 381 huise gedurende die 2021-2022 finansiële jaar te bou met 127 wat in die huidige boekjaar beplan word. Uitdagings om voldoende sanitasie te verskaf het die dorpsraad genoodsaak om 90 mobiele toilette te verskaf. Op Walvisbaai sal 610 erwe in die volgende boekjaar voltooi word met die privaatsektor wat ses blokke sal voorberei om sowat 1 344 erwe aan die publiek beskikbaar te stel.