Verpleegster van Keetmanshoop aangekla ná sy glo pasiënt aanrand

Die verpleegster wat na bewering ‘n beseerde pasiënt in die Keetmanshoop-staatshospitaal aangerand het, is in hegtenis geneem en word van poging tot moord aangekla. Die 32-jarige pasiënt, Mandfied Bobpege, is in ‘n kritieke toestand met kopbeserings na ‘n Windhoekse hospitaal gehaas. Die saak spruit uit Bobpege wat glo vroeër in ‘n bakleiery by ‘n nagklub betrokke was en na die Keetmanshoop-staatshospitaal is om behandeling te kry vir sy beserings. Na bewering is die persoon met wie hy vroeër in die bakleiery was, familie van die verpleegster en sy en ander familielede het volgens ooggetuies die slagoffer aangeval terwyl hy by die hospitaal versorg is. ’n Saak van poging tot moord is ook geopen teen die ander verdagtes, wat glo meer as vyf is.