Vermiste renosterhoring in Angola gevind

Die renosterhoring wat glo vermis geraak het terwyl dit tussen 30 September en 3 Oktober in die sorg van ‘n 45-jarige polisieman by Otjiwarongo was, is in Angola opgespoor. Dit is vandag deur die beheer-staatsaanklaer, Obert Masendeke, onthul tydens die borgtogaansoek vir die beskuldigde, sersant Salatiel Simon. Simon, wat deur sy prokureur, Kenneth Siambango vergesel is, het dokumente by die Otjiwarongo-landdros, Immanuel Udjombala, ingedien sodat hy op borgtog vrygelaat kan word. Borgtog is egter teengestaan deur Masendeke wat meen dat die kanse baie groot is dat die beskuldigde met die ondersoek kan inmeng en dat dit ook nie in die openbare belang sal wees met die nuwe ontwikkeling dat Simon borgtog kry nie. Die saak is tot 24 Januarie 2023 vir verdere ondersoek uitgestel. Simon, wat lid is van Nampol se Beskermde Hulpbronne-eenheid in die Otjozondjupa-streek, is in polisie-aanhouding.