Vermeende winkelrowers op Swakopmund vasgetrek

Die Namibiese polisie het twee mans in verband met ‘n rooftog by twee winkel op Swakopmund in hegtenis geneem. Volgens die polisie in die Erongo-streek was die verdagtes glo betrokke by die rooftog gister by die Home Corp Furniture Shop op Swakopmund, asook ‘n onlangse rooftog by Markhams op dié kusdorp. Die polisie het met behulp van G4 Security en Rubicon-sekuriteitsbeamptes, lede van die buurtwag en polisie die verdagtes in hegtenis geneem en beslag op ‘n voertuig gelê wat tydens die rooftog gebruik is. Drie van die verdagtes het op die vlug geslaan. Sommige van die gesteelde items is teruggevind. Die verdagtes verskyn môre in die landdroshof op Swakopmund.