Vermeende Kongolese dwelmsmokkelaar steeds op vrye voet ná hy ontsnap

‘n Kongolese vlugteling en vermeende dwelmsmokkelaar, die 32-jarige Gilbert Kalenga is steeds op vrye voet nadat hy Maandagaand uit die Swakopmund-aanhoudingselle ontsnap het. Kalenga van die Osire-vlugtelingskamp was in aanhouding vir die onwettige handel van dagga ter waarde van 1,35 miljoen Namibiese dollar. Hy het ook ‘n hangende saak van die onwettige besit van kokaïen in 2019 teen hom. Hy het glo die diefwering van die kombuisvenster van die aanhoudingselle gesny en ontsnap. Die Erongo-polisie vermoed hy het na Otjiwarongo of Windhoek gevlug. Die polisie vra die publiek met inligting om die naaste polisiekantoor te kontak.