Vermeende baba-ontvoerders bly in aanhouding 

Die derde verdagte in die onlangse ontvoering van ‘n drie maande oue babaseuntjie op Tsumeb, het ook in die landdroshof op Tsumeb op ‘n klag van ontvoering verskyn. Die 23-jarige Albertina Jason by wie die baba naby Oshakati ongedeerd gevind is, het voor landdros Ndatoola Namushinga verskyn. Haar saak is tot 17 Augustus vir verdere ondersoek en verkryging van regshulp uitgestel. Aanklaer Sakaria Mupuma het borgtog teengestaan. Jason se twee medepligtiges, die 21-jarige Lydia Kaunehafo Shimbilinge, en haar sekuriteitswag-broer van Swakopmund, die 25-jarige Joseph Natangwe Shatilwe, het reeds in die Tsumeb-landdroshof verskyn. Die saak spruit voort uit ‘n 18-jarige San-ma wat in middel Mei na Tsumeb gelok is vir ‘n werk as ‘n huishulp, waarna die verdagtes met haar baba verdwyn het toe sy winkel toe gestuur is om kos te gaan koop.