Verkiesingskommissie stuur registrasiestelle uit

Die Verkiesingskommissie van Namibië het registrasiemateriaal en -toerusting na al 14 streke en 33 buitelandse sendings gestuur ter voorbereiding van die komende algemene registrasie van kiesers. Die kommissie se woordvoerder, Siluka De Wet, sê 918 registrasiestelle is na die streke gestuur, terwyl 70 stelle na buitelandse sendings gestuur is. De Wet sê die toerusting en materiaal word binnelands deur NAM Courier vervoer ingevolge ‘n bestaande memorandum van verstandhouding. Die besendings word deur die Namibiese Polisie Reserwemag begelei. Die materiaal sal by kommissie-depots by die streekpolisiestasies afgelewer word. Die registrasiestelle vir buitelandse sendings is in diplomatieke sakke gestuur.