Verhouding versuur verder tussen VSA, Rusland

Die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake beskuldig Rusland dat hy die New Start-verdrag skend. Amerika beweer Moskou versuim om inspeksies by wapenopslagplekke toe te laat of in te stem tot vergaderings om probleme met die verdrag te bespreek. Amerika en Rusland het die verdrag in 2021 tot vyf jaar verleng. Die departement sê Rusland se weiering om inspeksies toe te laat, keer dat Amerika belangrike regte onder die verdrag uitoefen, en bedreig die lewensvatbaarheid van Amerikaans-Russiese kernwapenbeheer. Dié twee lande saam besit steeds sowat 90 persent van die wêreld se kern-plofkoppe.