Alle oë op Shiimi se middel-termyn begroting

Die middel-termyn begroting word op volgende week Dinsdag gelewer. Ontledings toon dat dit nie veel sal verskil van die 70,8 miljard Namibiese dollar se begroting wat in Februarie gelewer is nie. Verlede jaar is 2,2 miljard dollar hertoegewys. Maar, terwyl die huidige stand van sake van die regering se finansies redelik voorspelbaar is, is daar nie begroot vir die 3 persent verhoging van staatsamptenare nie en die koste beloop 1,2 miljard dollar. Volgens berigte is die regering goed op dreef om sy inkomste van net minder as 60 miljard dollar te bereik maar daar is steeds ‘n tekort van amper 11 miljard dollar. Die Internasionale Monetêre Fonds het ook ‘n beroep op die regering gedoen om te konsolideer om sy skuld volhoubaar te kan bestuur.