Veldtog skop af om Gautengse kroegeienaars in te ent

Die Nasionale Drankhandelaars en die Tshwane-vereniging vir Bekommerde Drankhandelaars begin ‘n veldtog om Gautengse kroegeienaars in te ent. Die handelaars sê in ‘n verklaring die doel van die kroeg-saamtrek is om probleme uit te lig wat kroeg- en sjebeen-eienaars ervaar onder die verbod en wat hulle as onregverdigbare beperkings beskryf. Die veldtog beoog om kommer te belig oor die vierde Covid-19-vlaag wat in Desember verwag word. Die marknavorsingsmaatskappy NielsenIQ sê Suid-Afrika se laaste drankverbod het die bedryf 7,6 miljard rand gekos.