Veilige lande: Namibië is 62ste geplaas

Global Finance, ‘n internasionale tydskrif se jongste peiling oor veilige lande om te besoek het Namibië in die 62ste posisie uit 134 lande geplaas. In sy verslag sê Global Finance die pandemie het die wêreld onderstebo gekeer en om die veiligheid van lande vir toerisme te bepaal is nou belangriker as ooit. Die verslag ondersoek drie fokuspunte: oorlog en vrede, persoonlike sekuriteit en die risiko van natuurlike rampe. Daar is ook verskeie risiko’s in verband met die pandemie wat ingereken word, soos sterftes. Die tydskrif sê sterftes word direk verbind met ‘n regering se bevoegdheid om die pandemie te hanteer en gee ook ‘n baie goeie aanduiding van beskikbare infrastruktuur in ‘n land. Inentings dui volgens die verslag, ‘n land se finansiële vermoë aan. Ysland is as die veiligste land bestempel.