Veertien Namibiese langnekke suksesvol na Angola verskuif

Veertien Namibiese kameelperde is oor ‘n afstand van 1 300 kilometer vanaf Namibië na die Iona Nasionale Park van die buurland Angola verskuif. Die Giraffe Conservation Foundation sê die langnekke was vir dekades lank nie meer in die Iona-park in die suidweste van Angola nie. Die park gaan deel vorm van die beoogde Iona-Skedelkus-oorgrenspark met Namibië. Die stigting wat die verskuiwing gefinansier het, het die stap as ‘n reuse-sukses vir bewaring bestempel. Die stigting voeg by onlangse pogings om kameelperde te beskerm het daartoe gelei dat hul dalende getalle na 35 jaar weer begin herstel het. Die daling word toegeskryf aan habitat-verlies, stropery en ander menslike faktore.