Veediefstal duur voort, meer as 6 gevalle daagliks in jaar aangemeld

Wild- en veediefstal bly ‘n groot uitdaging in Namibië ondanks vergadering op vergadering tussen die Namibiese polisie en boere. Volgens luitenant-generaal Joseph Shikongo is daar tussen Mei 2021 en April 2023 amper 23 800 vee gesteel en tussen Mei 2021 en Mei 2022 is meer as 2 400 veediefstalsake aangemeld – bietjie meer as ses daagliks. In die jongste voorval sê Nampol twee Namibiese mans van 66 en 32 is in hegtenis geneem nadat hulle glo ‘n koedoe by Maltahöhe gejag het. Ook in die Suide by Aranos is 15 skape ter waarde van 30 000 Namibiese dollar op die plaas Wilheben in ‘n kamp geslag. Al 15 karkasse is teruggevind, maar niemand is in hegtenis geneem nie. In die Noorde naby Oshakati is ‘n man en vrou gearresteer nadat hulle glo twee bokke gesteel en een geslag het.  Die gemeenskappe het saam met die Namibiese polisie die spore uit die kraal tot by ‘n huis gevolg waar ‘n bokkarkas en ‘n bebloede mes in ‘n gehuurde kamer gevind is.  Een bok is teruggevind waar die man dit glo verkoop het.