Veediefstal-dossiere verdwyn by Epukiro

Plaaslike media berig dat inwoners van Epukiro in die Omaheke-streek woedend is oor dossiere wat handel met veediefstal wat vermoedelik gesteel is. Die streek se adjunk-kommissaris Chris Kalimbula het volgens berigte bevestig die dossiere is weg maar sê dit is nie bevestig of dit wel gesteel is nie. Dit is nie die eerste keer wat dossiere net verdwyn nie. Verlede jaar is verskeie veediefstal-sake uitgegooi omdat die bewyse verdwyn het. Daar is ook berigte dat vermeende hoofde van veediefstal sindikate voorgetrek word deur van die polisielede. Die nuus kom kort op die hakke van berigte dat onwettige immigrante vanuit Angola vee in die streek steel. Meer as 5 miljoen Namibiese dollar se diere is in 2019-2020 gesteel met 244 verdagtes wat gearresteer is. Vanjaar is 150 diere reeds gesteel. In 2020 is ‘n baie goed georganiseerde sindikaat oopgevlek wat bees in die streek gesteel het en aan kapana-handelaars in Windhoek verkoop het. Sommige kenners meen veediefstal ruk hand-uit in die land.