Veeboere se insetkoste bly styg

Die kumulatiewe wêreldwye impak op olie- en brandstofpryse, sowel as die swak algehele prestasie van die Namibiese dollar teenoor buitelandse geldeenhede, plaas steeds ‘n insetkoste-las op Namibië se veeboerdery, sê die Namibiese Landbou-unie. Sedert die tweede kwartaal van 2021 het die koste van brandstof met 57 persent gestyg, voer met 29,2 persent, dieregesondheid met 16,1 persent en voertuigherstelwerk met 13,1 persent. Jaarlikse agri-inflasie het onvermydelik met 19,6 persent geklim gedurende dieselfde tydperk en bly die hoogste in meer as 10 jaar. Kwartaalliks, vanaf die eerste tot die tweede kwartaal van 2022, was die agri-inflasiekoers 4,9 persent.