Van Wyk en Kanime baklei, weer

Plaaslike media berig dat die Burgemeester van Rehoboth, Rudi van Wyk eis dat klagtes teen die dorp se Hoof Uitvoerende Beampte Simoen Kanime gebring word en dat hy dissiplinêr verhoor word. Van Wyk het ‘n brief aan die Dorpsraad se Uitvoerende Komitee, sowel as die Hardap Goewerneur en die Minister van Stedelike Ontwikkeling in die verband gerig. Hy sê daar moet ondersoek ingestel word na die aankoop van voorafbetaalde watermeters, verskeie bouprojekte, aanstellings en verlore tender-dokumente, onder van die klagtes. Van Wyk sê eposse is uitgevee. Van Wyk en Kanime is reeds ‘n geruime tyd haaks en het reeds openlik gestry. Kanime het aan plaaslike media gesê Van Wyk het hom belowe hy sal sy loopbaan verwoes as Kanime nie maak soos Van Wyk sê nie.