Valke se ondersoek betrek Malema

Die Valke in Suid-Afrika ondersoek bewerings van korrupsie en bedrog teen die Stad Tshwane in verband met ‘n brandstoftender waarmee EFF-leier Julius Malema verbind word. Volgens berigte, is die tender in 2019 aan drie maatskappye toegeken, waarvan een op sy beurt 15 miljoen Suid-Afrikaanse rand aan maatskappye betaal het wat met die EFF, Malema self, en die party se sekretaris-generaal, Marshall Dlamini, verbind word. Daar word berig dat die tydsberekening van die betalings oorvleuel met belangrike oomblikke in die tenderproses. Die Pretoriase Hooggeregshof het in Junie verlede jaar die tender tersyde gestel, en die irrasionele en onregverdige evalueringsproses uitgewys.