Vakbondbaas se N$74m saak weer in die hof

Die taxi-vakbond baas Werner Januarie het om verskoning aan die hof gevra omdat hy nie ‘n voorvergadering oor die saak bygewoon het nie. Hy dagvaar die destydse minister van polisie Frans Kapofi, en ander, vir 74 miljoen Namibiese dollar in skadevergoeding. Hy sê daar is in sy huis ingebreek en alles is gesteel, insluitend sy selfoon. Hy het die hof gevra om voort te gaan met die saak omdat hy ook nie regsverteenwoordiging het nie en wil nie die saak vertraag nie. Januarie sê in sy eis voor die hof dat hy 37 miljoen dollar sal aanvaar as die saak nie verdedig word nie en 150 miljoen Namibiese dollar as die respondente ‘n ligsinnige verdediging voor die hof bring. Hy sê dat hy op 21 Augustus 2020 in Dolam, Katutura om vyf-uur die middag aangerand is en in hegtenis geneem is in verband met oortredings van die Covid-maatreëls. Hy meen hy moes ‘n kans gehad het om die maatreëls na te kom voor hy gearresteer is. Die saak word verdedig. Regter Essie Schimming-Chase hoor die saak aan wat vandag voorkom.