Unam waarsku oor bedrogspul met vervalste bestellings

Die Universiteit van Namibië sê daar is ‘n slenter wat omgaan en sy verskaffers teiken. Die hoof van verkryging, Veronica Mungonena, sê in ‘n verklaring dat vervalste bestellingdokumente, met wat voorkom as amptelike bestellingsnommers, uitgestuur word na sy kliënte vir verskeie produkte. Mungonena sê Unam-verskaffers moet paraat wees en op die uitkyk wees vir bestellings wat baie dringend of haastig is, groter as normaal is, eposse met spelfoute en telefoonnommers wat van die kampus s’n verskil. Sy voeg by, die afleweringsadres is ook nie enige van die instansie se kampusse nie.