Unam kap terug oor ‘akkreditasie’ van kursusse

Die Universiteit van Namibië sê hy is die een wat wag op akkreditasie van die nuwe kursusse wat hy aanbied vir die 2023-akademiese jaar. Dit volg na die  Nasionale Raad vir Hoëronderwys en die Namibiese Kwalifikasie-owerheid die universiteit daarvan beskuldig het dat hy kursusse wat nie geakkrediteer is nie, bemark. Die twee instansies het ‘n skrywe aan die vise-kanselier professor Kenneth Matengu gerig en sê nie een van die nuwe of aangepaste programme is by een van hulle geregistreer nie. Matengu sê die aansoeke is reeds tussen 29 Augustus en 21 Oktober vanjaar, soos gebruiklik, ingedien maar, daar is altyd vertragings in die finale goedkeuring. Hy voeg by dat daar in die verlede nog nie ‘n probleem ervaar was na Unam se eie oorsigprosesse nuwe kursusse goedgekeur het nie en dus, het hy voortgegaan met bemarking daarvan. Hy sê verder dat hulle ook destyds gevra het vir vervroegde goedkeuring omdat aansoeke reeds in September begin.