Twee vas vir roof op Okahandja

Die woordvoerder van die Otjozondjupa polisie, inspekteur Maureen Mbeha sê twee verdagtes is vasgetrek in verband met Maandag se gewapende rooftog van net meer as 77 000 Namibiese dollar in die hoofstraat van Okahandja, skuins oorkant die polisiestasie. ‘n Derde verdagte is steeds soek. Volgens Mbeha is ‘n man wat met die kontant in die leersak gestap het, voorgekeer en met ‘n wapen en mes gedreig. Die sak is gegryp en die man se agterband van sy motor is stukkend gesteek. Die drie het in ‘n motor gevlug in die rigting van Vyfrandkamp. Mbeha sê net meer as 4 000 dollar en die wapen is gevind. Daar is met die reeksnommer van die wapen gepeuter. Die twee, 23 en 34 jaar oud, bly in aanhouding en die ondersoek duur voort. Hulle sal na verwagting nog die week in die hof verskyn. Owerhede het onlangs kommer uitgespreek oor die toenemende voorkoms van gewapende rooftogte van veral kontant.