Twee tieners dood na weerlig slaan

Twee tienerseuns is op slag dood nadat hulle by die Kamutjonga-dorpie in die Divundu-kiesafdeling deur weerlig getref is. Die woordvoerder van die Namibiese polisiemag, inspekteur Raimbert Muronga, sê die twee seuns het ten tyde van die voorval sokker gespeel by ‘n plaaslike sportveld. Hulle was deel van ‘n span waarin ses ander 17-jarige seuns en ‘n 23-jarige man ook deur die weerlig getref is. Die oorlewendes is na die Andara-distrikshospitaal gehaas en is na berig word in ‘n stabiele toestand. Twee doodsondersoeke is geregistreer en verdere polisieondersoeke duur voort.