Twee groot uitsprake in hof vanoggend verwag: Menzies, en regter vir Fishrot-saak

Daar is twee uiters belangrike uitsprake in die hoërhof vanoggend. In die eerste, om nege-uur sal regter Hannelie Prinsloo haar beslissing in Menzies Aviation se jongste poging om vrag- en grondhantering by die Hosea Kutako Internasionale Lughawe te herwin, lewer. Om tien-uur sal regter Boas Usiku uitspraak lewer in die aansoek deur drie van die Fishrot-lot, James Hatuikulipi, Sacky Shanghala en Pius Mwatelelo, dat regter Kobus Miller van hulle saak onttrek. Hulle voer aan daar is ‘n sterk moontlikheid dat Miller bevooroordeeld is en nie hulle saak objektief sal aanhoor nie. Die aantyging kom na hulle dringende aansoek in Desember 2019, kort na hulle arrestasie, om borg te bekom. Miller het die aansoek aangehoor en van die hand gewys.