Trump is nie immuun nie

Die Amerikaanse Appèlhof het beslis oudpresident Donald Trump is nie van kriminele vervolging vrygestel in sy saak oor die ondermyning van die federale verkiesing nie. Die 77-jarige Trump het aangevoer hy is immuun teen strafregtelike aanklagte vir dade wat volgens hom binne sy pligte as president geval het. ’n Paneel met drie regters het egter bevind daar is geen grondslag vir Trump se bewering dat voormalige presidente volle vrywaring teen vervolging het nie. Trump is daarvan aangekla dat hy saamgesweer het om president Joe Biden se oorwinning in die 2020-verkiesing omver te werp en bedrog gepleeg het om as president aan te bly. Trump sal appelleer.