Troika-beraad: Fokus op Eswatini, Lesotho, Mosambiek en DRK

Die politieke en veiligheidsituasie in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap is die hooffokus van die buitengewone Troika-beraad wat in die hoofstad plaasvind. Onder die voorsitterskap van Namibiese President Hage Geingob, is dit die eerste vergadering van staatshoofde vanjaar. Geingob staan aan die hoof van die SAOG se orgaan oor politiek, verdediging en veiligheidsamewerking. Die Namibiese minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Netumbo Nandi-Ndaitwah, het tydens die openingseremonie vandag gesê Eswatini, Lesotho, Mosambiek en die Demokratiese Republiek van die Kongo sal terugvoering gee oor hul veiligheidskwessies.