Transnet se uitvoerende hoof swig onder druk, bedank
Transnet se uitvoerende hoof, Portia Derby, het onder die druk geswig en bedank. Dit volg op ‘n jaar waarin sakelui en later georganiseerde arbeid aangedring het op haar vertrek terwyl die staat se logistieke instelling gesukkel het onder haar beheer. Derby is in Januarie 2020 aangestel, volgens berigte om Transnet te suiwer na jare van korrupsie en wanbestuur, maar kon nie die instelling omkeer nie. Die minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, het Transnet se raad onlangs gevra om haar geskiktheid vir die pos te oorweeg, asook dié van die hoof van Transnet-Spoorvrag, Sizakele Mzimela.