Top Gun Maverick gedagvaar

Die familie van die skrywer wie se artikel die Tom Cruise-rolprent “Top Gun” van 1986 geïnspireer het, het Paramount Pictures gedagvaar vir kopieregskending oor “Top Gun: Maverick”. Volgens ‘n klag wat by die federale hof in Los Angeles ingedien is, het Paramount versuim om die regte op Ehud Yonay se 1983-artikel “Top Guns” van die familie te herwin voordat Maverick, wat hulle beskryf as ‘n afgeleide vervolgverhaal op die oorspronklike storie, vrygestel is. Die regsgeding deur Shosh Yonay en Yuval Yonay, wat in Israel woon en onderskeidelik Ehud se weduwee en seun is, soek ongespesifiseerde skadevergoeding, insluitend winste uit “Top Gun: Maverick”. Paramount sê die eis is sonder meriete en sal die saak verdedig.