Toerisme sal eers 2022 herstel

Daar word beraam dat die plaaslike toerisme bedryf eers teen 2022 herstel sal toon. Internasionale besoekers aan Namibië het in die eerste kwartaal van die jaar met 83 persent teruggesak. Internasionaal lyk die prentjie dieselfde. Meer as 180 miljoen minder reisigers is in dieselfde periode regoor die wêreld bevestig. Die VN se Wêreldtoerisme-organisasie sê inenting is die enigste manier om toerisme te laat herleef. Plaaslik het syfers nie so swak soos verwag vertoon nie maar die Namibiese Gasvryheidsvereniging sê 58 persent van alle besoekers wat in April vanjaar aangeteken is, is Namibies teenoor 19 persent wat in April 2019 aangeteken is. Internasionale besoekers het in April 19 persent van alle gaste verteenwoordig, teenoor 45 persent in April 2019.