Toelaagbesprekings moet openbaar wees

Suid-Afrikaanse burgerlike organisasies wat hulle vir ‘n basiese inkomste beywer, raak toenemend bekommerd oor aanduidings dat die Nasionale Tesourie vasbeslote is om eensydig ‘n voorstel vir inkomstesteun, die sogenaamde gesinstoelae, deur te druk. ‘n Woordvoerder van die Black Sash, Esley Philander, sê die organisasies het die afgelope weke bewus geword van hierdie voorstel en het aanvaar dit sal verwerp word oor die eksklusiewe aard daarvan. Philander sê hulle eis ‘n einde aan geslote-deur-beleidsbesprekings wat deur tegnokrate gedryf word. Volgens Philander moet daar ‘n geleentheid wees vir die openbare bespreking van beleidsopsies.