Tien mans vas oor diefstal van 16 vragmotorwiele

Tien mans gaan binnekort in Limpopo in die hof verskyn nadat hulle aangekeer is in verband met die diefstal van 16 vragmotorwiele op ‘n plaas in die distrik Waterberg. Polisiewoordvoerder Motlafela Mojapelo sê die wiele is van die voertuie afgesteel wat by ‘n onderneming op die plaas naby Bela-Bela geparkeer was. Die mans is in hegtenis geneem na ‘n jaagtog op die N1-suid. Al die gesteelde wiele en bande is op drie voertuie gevind. Daar is ook beslag gelê op die voertuie.