Thomas Florin bring weer aansoek vir vrylating

Die berugte Thomas Florin het ‘n aansoek op die mosiehofrol vanoggend. Hy poog weer om vrygelaat te word maar, die saak sal van die rol verwyder word en na ‘n besturende regter oorhandig word. Florin, wat sy vrou Monica in Junie 1998 op Swakopmund vermoor het en haar oorskot gekook het, is in Desember 1999 lewenslange tronkstraf, dus 25 jaar, opgelê. Ter sprake is die paroolwet wat hersien is van die 1959 wetgewing en op 15 Augustus 1999 in werking getree het. Luidens die nuwe wetgewing moet 25 jaar uitgedien word waar die 1959 wetgewing tien jaar toegelaat het voor parool oorweeg is. Dus sê Florin in sy stukke dat omdat hy onderhewig is aan twee verskillende wette, een wat geldig was toe hy Monica vermoor het, en die ander toe hy gevonnis is, moet die datum van die oortreding gebruik word. Hy hou voet by stuk dat hy sy vonnis onder die 1959 wetgewing uitdien. Hy sê verder dat vorige pogings vir parool ook geweier is omdat hy nie ‘n Namibiese burger is nie wat hy verwerp. Florin het reeds 23 jaar uitgedien.