Texas Walmart-skieter (24) lewenslank tronk toe

‘n Amerikaanse regter het die Texas Walmart-skieter tot 90 opeenvolgende lewenslange tronkstraf gevonnis vir die massa-skietvoorval in 2019 waarin hy 23 mense doodgeskiet en 22 ander gewond het. Die vonnisoplegging deur regter David Guaderrama in El Paso het voldoen aan ‘n pleit-ooreenkoms van Februarie waarin die 24-jarige Patrick Crusius skuldig gepleit het. Hy het ingestem tot 90 opeenvolgende lewenslange vonnisse met geen moontlikheid van parool om die doodstraf te vermy nie. Hy staan steeds tereg op aanklagte van die staat Texas wat tot die doodstraf kan lei. Crusius het nie in die hof gepraat nie. Sy prokureur Joe Spencer het ‘n verklaring vir hom afgelê waarin hy sê sy kliënt het aan geestes-ongesteldheid gely wat hom daartoe gedryf het om die skietery uit te voer.