Taxibestuurder in die sop oor dooie duif

‘n Taxibestuurder in Tokio is onlangs gearresteer nadat hy glo opsetlik in ‘n swerm duiwe ingery het en een van hulle doodgemaak het. Volgens die polisie het Atsushi Ozawa “sy motor gebruik om ’n gewone duif, wat nie ’n wilde dier is nie”, dood te maak en het natuurlewe-beskermingswette oortree. Volgens plaaslike media het Ozawa aan die polisie gesê hy het tussen die voëls ingery omdat “paaie vir mense is en dit is vir die duiwe om motors te vermy”. Beperkte getalle wildsduiwe kan wettiglik in Japan gejag word. Wilde, stedelike duiwe mag egter net met die goedkeuring van plaaslike owerhede doodgemaak word as hulle ‘n bewese oorlas is. ’n Veearts het ’n nadoodse ondersoek op die duif gedoen en die oorsaak van dood as traumatiese skok bepaal.