Swart boere wil Agribank verhoed om beslag te lê op plase

Die kommersiële boere-unie vir voorheen-benadeelde boere in Namibië, dagvaar die voorsitter van die Agribank-raad, sowel as verskeie ministers, die speaker en die prokureur generaal. Die unie eis dat die besluit deur die bank se raad om beslag te lê op kommersiële plase wat deur swart boere aangekoop is onder die Regstellende Aksie-leningskema, sou die rekening agterstallig raak, ter syde gestel moet word. Die eis, wat deur Jeaneth Kuhanga, ingedien is maak melding van die koloniale tydperk deur tot onafhanklikheid. Grond is van swart-gemeenskappe volgens haar stukke afgevat en die spesifieke leningskema is daargestel om swart boere, wat reeds op ‘n groot skaal kommunaal boer, toegang tot kommersiële grond toe te laat, op ‘n bekostigbare rentekoers en verlengde afbetalingsperiode. Sy sê nog net 16 persent van kommersiële grond is in swart besit in Namibië. Sy meen Agribank oortree sy mandaat om beslag te lê op grond wat deur die leningskema aangekoop is en sê verder, die bank mag nie die boere swartlys voor hy nie ‘n uitspraak teen hulle gekry het nie. Die saak word verdedig. Regter Marlene Tommasi sal vanoggend saam met die partye datums vir stukke en verdere voorverhoor konferensies bepaal.